Tuesday, August 3, 2010

UT MY ATELJEE... `n droom word waar!

My kop tussen boek-blaaie weggesteek, hoor ek skielik, `aah! blokjou!`
Vind ek myself lewend in my droom van letters en woorde! Hoeveel jare koester ek dit nie al hier diep binne my nie-
my tyd loop uit in strome van gedigte, stories, verhale- van lank verby se paaie waar ek eensame spore gelos het, hier en daar ook sonskyn-kolle so tussenin..
In hierdie blye fase van lankgestoorde/nuutgevonde geluk, wil ek my blydskap op die hoogste berg uitroep!
Deur die Klein Karoo se stofpaaie wil ek stap met my hart op my mou en saans stories saam met die opgegaarde stof uit my vellies slaan-
Terug by my ewe geliefde see wil ek op wit maanhaar-golwe ry, my hare fosforblink... en later oorloop wonderwoorde innie sagte sand met my vinger skryf-`ek is vry!`
My blydskap in jou oe sien weerkaats/terugkaats...

Monday, May 17, 2010

UIT MY ATELJEE... `kaneel kaneel kaneel`

Vrolike blink druppels val vanuit die reen-gordyn wat oor ons vensters waterval! Sommiges beland in onderstebo skulpe wat op hulle ruggies tussen die plante le en bly wees...`bloeb-bloeb-bloeb`

Pers Laventelblomme dans aan slank stingels - gesiggies opgehef na bo en bedwelm my sinne met hul tipiese geur...

Jassielose swart spreeus sit kromrug, natgeveerd oppie muur waar oorskiet kossies vir hulle wag- sing, baklei, eet.. ek glimlag net want dis mos maar hoe kinders maak, dan nie?

Kattie sit oppie stoep en weier effens norserig om n draai te gaan loop `nie in hierdie nat grond nie` lees ek in haar verontwaardige kyk. Ontsteld roer sy haar snor en hakkel geirriteerde geluide om so, haar lus vir n spreeu te kenne te gee- as sy MY kon lees, sou sy ok weet, `nie in hierdie lewe sal jy een van my voel kinders vang nie.`

Soos ek reeds gese het, is dit n sous-nat wintersdag! n Dag vir kaneel! Enigiets met kaneel in gelaai met goedvoel dinge wat in die wonderlike spesery skuil- vir my, doen sjokolade dit net nie, probeer al jarre...!

Warm melk met kaneel, souskluitjies, Franse broodjies (liewe heksie broodjies) vir my kinders.

Ek gaan staan oppie nat stoep met toe oe en voel hoe die reendruppels op my gesig breek, oor my wange kronkel en oor my trui hulle laaste le kry.

Haastig draai ek om `laat ek net daai outydse resepteboek innie hande kry` praat ek met myself. Agter my kom kattie aangedraf, los modderspoortjies oorie vloer... haar draai het sy geloop.

Soos ek, deur ma se kaneelresepte, nou vir die hoeveelste winterdag, my eie spore gaan los.

UIT MY ATELJEE `my naam is Winter`

Oudergewoonte stap ek vanoggend met my beker koffie woonkamer toe om rustig in ons eethoekie my lekkerte te gaan sit en afsluk- en daar sit sy- stil stil het sy haar kans afgewag om my te verras en sit sy ewe `cool` met haar mollige, sonskynlyfie oppie ronde tafel.
Waar gister nog koelte getalm het, wag sy nou met haar goudgeel kleed oopgesprei asof sy wil se `ek is hier, my naam is Winter, onthou jy?
Natuurlik is ek oombliklik opgewonde soos altyd, wanneer hierdie seisoens-vriendin uitgelate my woning binnestorm of soms stilweg bekruip soos nou... met haar skalkse glimlag.
Ek gaan sit langs haar en terwyl ek proe aan my skuimende koffie, vertel sy vir my van al die wonderlike dinge wat ons saam gaan doen!
Met my kamera gaan ons droe akker en populierblare rondjaag innie koue wind-
in die Klein Karoo sal ons n sneeuman bou en vuurmaak in ons vissershuisie se kaggel-en droom met die knetterende houtstompe-terwyl ons teenie aand se kant warmwatersakke soos van ouds, agter ons koue boude nestel...
Ek sal my rooi wolsokkies aantrek en agter Winter aanstap om die skoonheid in so baie kaalgestroopte bome in my sketsboek tuis te maak vir later se skilder...

Friday, April 30, 2010

UIT MY ATELJEE... laaste stuiptrekking

Die afgelope naweek gaan verken ons met ons kinders die Gamkasberge- ongelooflike natuurskoon maar nerens loop ek n verlore veertjie raak nie. Tog is voels volop daar. Calitsdorp se huisies spog met een of ander kunstenaar se uitgestrooide talente oppie mure, soos confetti oor n bruid...
Oppad terug hustoe, val ons soos dorstiges uit die bakkies om n onverwagse klein ateljee langs die pad te gaan bekyk. Ons `oe en aah` en my mond bly ok sommer oophang so innie `aah` toe ek n half versteekte mandjie vol pienk volstruisvere langs n ou kas gewaar! `Sommer maar afval veertjies` verduidelik die gawe eienares, nie vir my nie! Reg geraai, selfvoldaan nooi ek dieselfde aand my man en maat na ons boheemse slaapkamer, getooi met pienk vere en feetjie liggies...
Vir twaalf jaar al, kom verras hy my met n klein veertjie in sy hand wat hy woordeloos voor my hou, soos n kosbare geskenk- wat dit altyd sal wees.
Genoeg van vere nou sou ek reken...

Thursday, April 29, 2010

UIT MY ATELJEE...DEEL 2 - vere

Die deksel word gelig- die mooiste versameling vere wat ek nog gesien het! Nie mens gekleur nie, le metaalgroen, blou, oranje fisantvere sorgsaam ingepak in hierie trotse dosie. Dit was `geen moeite` vir haar om dit te loop en optel nie...
Uiteindelik word ons allergrootste droom bewaarheid toe ons in George aanland. Naby die see waar ek met die branders se klank los woorde en gedagtes soos treintrokke aanmekaar kan haak om my stories te laat uitstoom...
Ek praat met my seevoels en versamel hul vere vannie strand af totdat ek nie meer weet wat om daarmee te maak nie! (asof hulle sou opraak) maar hulle trek my soos magnete. My brein was naderhand goed in rat en ek het begin boekhou van wat als met n veer gedoen kan word- noem my mal!

UIT MY ATELJEE...

Hoekom fassineer vere my so?? ek loop hoeka neus innie lug vir geen ander rede nie, as dat ek dalk die gelukkige eienaar mag word van n dartelende veer van iewers uit die lug-mooi grys duifvere, klein sagte wit veertjies as ek baie gelukkig is, nou en dan n geel ene...
Ek klim deur doringdrade (al se die bordjie `oortreders sal vervolg word`)om agter n tarentaalveer aan te hardloop! Toe ek n paar jaar in P.E. gebly het was sonneblomme, groenmielies en tarentale n groot gemis in my lewe-
Soms waai n groterige wit veer ons woonstel binne, dit le net daar in die ligte roering vannie lug- hulle noem ek my engele.
So ontvang ek eendag my eerste `gestremde vere` n Jong man van langsaan, ook gestremd,
kom le een oggend n verkreukelde nat sakkie met die grootste afwagting en opgewon-
denheid in my hande. Binne in was n hoop sopnat gereende eendvere wat ek later met seer verwondering onder die kraan moes afspoel om die modder uit te kry. Dat hy so baie moeite gedoen het om in die reen en modder te loop en vere op te tel vir iemand wie hy nie eintlik geken het nie...
Ons word vyf jaar gelede `inkommers vanuit die Tranvaal` innie Klein Karoo- ywerig om ander kunstenaars te leer ken gee ons die eerste tree na die dorp se ateljee.
Mooigoed is oral uitgestal maaar wat sal ek eerste raaksien? die mooiste, kleurvolste volstruisvere! Soos n kind se verwondering in helder ballonne, so was my blydskap toe ek my gesig tussen al hierdie lieflike, sagte, groot vere druk- om later skatryk met n armvol terug te keer na ons wit vissershuisie, waar elke vertrek opgevrolik word met skelpienk, pers, rooi en groen vere. n Verwelkomings geskenk van een vannie Klein Karoo se bekende skilders.
Soos dit gaan in sulke klein `skinderbek-plekkies` klop n vrou n paar dae later aan ons deur. Persoonlik het ek haar nie geken nie, net raakgeloop en die Uniondale kop-
knik gedoen soos ou inwoners daar doen, veral as jy n inkommer is...
Dit was n nuwejaars oggend toe sy n pragtige goud/swart dosie na my uithou, met die woorde `ek het gedink jy sal hiervan hou` ek was versigtig om dit oop te maak, mens weet nie of daar eiers of dalk n kuiken of twee in kon wees nie.

Thursday, March 11, 2010

UIT MY ATELJEE...

Watter oneindige herinneringe maak die see se ontstuimigheid nie in n mens wakker nie! soms kalm soos n tevrede siel, ander kere onrustig soos die naamlose gejaagdheid in eie gemoed! laasgenoemde is inelkgeval die bewys van n gejaag na niks...
Hou op jaag- in rustigheid kan jy soveel meer dink, om nie te praat van DROOM nie. Wonderlike idees kom vat pos wat daai lekker goedvoel hormone afskei en n mens opgewonde laat wees oor selfs die kleinste van nietighede, wat soms groot drome baie toereikender laat lyk en talle kere waargemaak is!
In klein dingetjies le gewoonlik die grootste vreugde soos-
om jou spore op die strand te los...
die ysige heerlikheid van branders oor jou voete te voel...
n gaatjie te forseer deur die lae papier waarin jou stoomwarm slap chips toegedraai le en jy al blasende die eerste een probeer afsluk, sommer so sonder sout!
die geluid van eerste reendruppels op jou dak...
die voorreg van n beker soetwarm koffie...
warm wolsokkies innie winter...
die lekkerkry van n spoelklip innie palm van jou hand...
n skulp se reuk...
die altyd vrygewige wind in jou hare...
ontelbare sterre se blink, in n oneindige hemelruim...
om my baie klein vreugdes met jou te deel...